Dit was nie altyd so nie. Toe ek drie jaar gelede na Spanje getrek het was ek nie ‘n great bakker nie, maar bakpoeier het my ook nie bang gemaak nie. Na ‘n paar jaar van ingesonke, half-gebrande of rou brousels is ek omtrent bakverskrik en koekbedroef. Was dit die Spaanse meel, die humiditeit van die Baskland, die tien huise in drie jaar, elk met sy eie nukkerige oond en eklektiese versameling kombuistoebehore? Wat maak dit saak. Ek is nie verniet terug in Suid-Afrika nie. Ek het meetkoppie in die hand gaan aanklop by ‘n Groot Koekedoor. The one, the only…
Dis reg maats. Ons eie Mari-Louis Guy, een helfde van die sexy Cakebread duo wat wonderlike bak- en kookboeke uit ooze terwyl hulle pragblaaie vol bros en sappige kos stileer, blogs skryf, advertensies skiet, kinders grootmaak, vriende vermaak en general coolness uitstraal. Het ek genoem sy’s een van drie beoordelaars wat volgende jaar op KykNet se Koekedoor haar pad deur honderde koeke gaan proe om SA se bobaas bakker aan te wys? Einste. As iemand my flenters ego kan red, is dit sy.
Ek kan boekdele oor ML skryf maar in ‘n neutedop, when life gives her lemons, she candies the peel and whips the pulped flesh into a moist, lemony confection while sipping on a punch bowl-sized margarita and yelling GIMME MORE! Sy is ‘zest’ personified en ek lief haar daarvoor. Ek ken niemand anders wat swaarkry en terugslae met soveel grasie omarm en oorkom nie. En sy kan bak, o wragtag. Mens staan nog en klets, dan rol ‘n sakkie fudge uit haar mou wat sy gou vir ‘n skoolbasaar aanmekaar geslaan het terwyl ek op die toilet sit en Instagram check. Talk about needing help!
“As ek bak, bak ek alleen. Versier doen ek met geselskap.” Ongelukkig moes ons een van haar goue reëls breek. Dit was so lekker om mekaar te sien, ons het onmiddellik vreeslik aan die skinder praat geraak en summier die prys daarvoor betaal. Ons doel was om Donna Hay se sjokolade meringue koek te bak. Omdat die señor mal is oor sjokolade en ek hom wou impress, maar ook omdat ek skeitbang is vir meringue. Al daai slap, halstarrige eierwitte. Dis my kulinêre weergawe van arachnophobia. Ek’s seker ‘n Kitchen Aid in enige kleur sal my hiervan genees, maar ek het nog nooit een besit nie. ML het ‘n pragtige ligbloue. Ten spyte daarvan het ons so baie gepraat versuim om die eiergele te klop voor ons dit by die gesmelte sjokolade gevoeg het. Nie ‘n doodskoot nie maar die koekbeslag het beslis ‘n knou gekry – minder lug as wat optimaal sou wees. En dis presies hier waar die bobaas bakster en die busker se paaie skei. ML het besluit om met die koek voort te gaan, maar het onmiddellik ook met ‘n tweede koek begin. Sy val nie sommer met die eerste terugslag plat nie. Donna was ook nie sonder skuld nie, want die resep sou kon doen met ‘n paragraaf of twee om belangrike stappe te onderskei.
“As ek ‘n flop bak, neem ek aan dis ek wat die fout gemaak het. Baie mense dink dis die resep.”
Kom ons neem ‘n oomblik om hierdie klontjie ML wysheid te laat insink. Reg. Met twee koeke in produksie en ‘n paar wedersydse shut-ups hernude fokus het dinge begin lekker lyk.
ML se top tips vir lekker meringue maak:
1. Alle bestanddele moet teen kamertemperatuur gebruik word.
2. Klop eierwitte in ‘n glas of vlekvrye staal bak wat kurkdroog en silwerskoon is (geen vet of water).
3. Eierwitte MOET sagtepunt stadium bereik voor jy enigiets bygooi.
4. Die ware Jakob meringue bevat nie meelblom of asyn nie. Dis eerder ‘n pavlova, vandaar die chewy tekstuur. Yum.
KV: Ek dink al my gebak was so k@k omdat ek nooit die regte equipment in Spanje gehad het nie, bv. mens MOET ‘n skaal hê, en ‘n decent blender, en die regte bakke en dinge. Plus ek lees nooit die resep deur nie, al weet ek mens moet. En ek is sleg met reëls volg. En dan’s daar nog die verskil in bestanddele tussen hier en daar. Soos toe ek vir Ben ‘n verjaardagkoek probeer bak het. Wat is jou top tips vir bakgemak?
ML: Ek lees altyd die resep ten minste twee, verkieslik drie keer deur. Maak seker dat jy al die regte bestanddele byderhand en verkieslik afgemeet het, voor jy begin. En natuurlik, die regte kombuistoebehore maak ‘n groot verskil. Met koekbak is pangrootte BAIE belangrik. Check heel eerste dat jy die regte grootte in die huis het.
KV: Terloops, maak dit saak watter kant van die bakpapier mens gebruik?
ML: Nee. Het jy geweet waspapier is nie dieselfde as bakpapier nie?
KV: Nee. Fok.Dit verklaar seker nog ‘n paar flops!
ML: Het jy die timer gestel toe ons die koek ingesit het?
KV: Nee… Sorry.
ML: *sug* (oogrol) Kom ons voel gou. As die koek sponserig terugbons is dit reg.
Intussen is koek nommer 2, waarvan die eiergele geklop is voor dit vermeng is, mooi besig om te rys in die oond. Afskeepkoek nommer 1 is met sy glansende meringue-deksel die oond in om klaar te bak. Met die pressure effens af, arriveer ML se broer Callie Maritz asof gestuur. Vergeet van ‘n soettand, die ou se hele lyf is ‘n suiker vortex. Danksy ‘n bier-en-banting diëet sou mens dit nie kon raai nie.
Benewens bitter harde werk en talent, vermoed ek Cakebread se sukses het iets te make met die Neil Diamond CD wat nou al jare lank vassit in ‘n stukkende CD speler in die hoek van die kombuis. Hulle weier om dit reg te maak of daarvan ontslae te raak, soos ‘n ou haaspoot wat geluk bring en herinner; hierdie is Weskus kinders wat kleintyd moes leer plaatkoek bak terwyl hul raakvatter ma die pot aan die kook gehou het.
Ai, as ek maar altyd met ML kon bak. Nog ‘n rede hoekom ek hierdie koek gekies het is, in Donna se eie woorde: “This cake is supposed to look cracked and uneven – don’t be alarmed if it cracks or collapses a little.” So dis ‘n redelike forgiving resep en die kanse dat jou koek net so cracked soos Donna s’n sal lyk is, frankly, HUGE. En dit pas my.
Albei koeke was heerlik, maar nommer 2 was beslis ligter en lekkerder. Deels omdat die eiergele geklop is op die regte tyd en ook omdat ek onthou het om die klok dop te hou. Basiese goed. Mens moet dit net doen. ML was gaaf genoeg om nommer 2 met my huistoe te stuur en die señor was wel beIndruk. Sukses, soete sukses!
Dankie Mari-Louis vir jou bereidwilligheid om my treurige bak alter ego ‘n hupstoot te gee nie. Ek kannie wag om jou en ‘n klomp koeke op TV te sien nie!
Volg Mari-Louis op Twitter en Instagram by @marilouisguy en vind Cakebread op Facebook. Besoek gerus haar en Callie se lekkerlees blog Kalm terwyl dit weergalm by Huisgenoot.com
Koekedoor word vroeg 2015 op KykNet uitgesaai.
Ek dra hierdie blog post met liefde op aan Lise Weyer-Henderson wat hopeloos te vroeg, tragies oorlede is op die dag wat ek en Mari-Louis so lekker laf gebak het. Die lewe is mooi, hard, onvoorspelbaar en eensklaps so ontsaglik hartseer. Lise was ‘n wonderlike kok, gasvrou, skepper, leermeester, ma en eggenoot wat haar hoekie van die Karoo met passie omskep het. Woorde raak weg in die groot leemte wat sy laat.
Mari Louis is a very dear friend of mine, would it be possible to get an English translation of this??? Tell her I asked!!!
Hi Jen, I think we covered this on Facebook, right? You used google translate.
Ai Bianca! Jy skryf pragtig!
Baie dankie Zirkie! Waardeer die kompliment. Ons tyd stap nader… Begin uitsien daarna! Mooi bly, B