Jy het ‘n Wenresep! Of, het ek?

August 15th, 2016 § 10 comments

Ek het in die verlede live restaurant reviews op Expresso gedoen en is tans deel van DIS op VIA – ‘n lighartige program wat kykers aan heerlike kos bekendstel – so ek het ‘n bietjie TV ervaring, maar ek was nog nooit so op my senuwees soos met die opname van Jy het ‘n Wenresep! nie.  Dis obviously net soveel makliker om ander mense se kos te beoordeel as om self iets te maak. En dan nog in kompetisieformaat, met een van SA se grootste kos ikone as beoordelaar.

Zirkie Schroeder, ek, Christina Jacobs

Zirkie Schroeder, ek, Christina Jacobs

Dit was ‘n ysige, rëenerige dag op Nooitgedacht landgoed maar die filmspan was fantastiese en my kompetisie, Zirkie Schroeder en Christina Jacobs, was relaxed en lekker geselskap. Deelnemers raak soms bietjie tewerig op Wenresep – een van die redes hoekom die program so entertaining is – en dit was my voorneme om dit te probeer vermy. Maar, as die dag lank raak en die regisseur weet nét hoe om die laaste stukkie opinie uit jou uit te ryg…

Prep onder die bome buite die Wenresep stoor

Prep onder die bome buite die Wenresep stoor

Carmen Niehaus is al 27 jaar die kosredakteur van Huisgenoot. Sy het al álles gesien en geproe en ken die volkspalet beter as die palm van haar hand. Ek wou haar graag beïndruk en wou veral daai lekker ster wen. As jy hierdie lees en daaraan dink om in te skryf, weet maar dat Carmen geweldig regverdig en volgens streng riglyne te werk gaan. Haar boek met sy blinkrooi omslag is vol notas, kolomme, regmerkies en kruisies. Jou gereg moet lekker wees, maar nie te duur en omslagtig nie. Vars en gesond, maar steeds toeganklik. Innoverend, maar ook relevant. Dit is regtig nie so maklik soos dit lyk nie! Kyk gerus ‘n paar programme voordat jy op jou resep besluit, want elke boks moet getiek word.

Carmen Niehaus en haar alomteenwoordige rooi notaboek

Carmen Niehaus en haar alomteenwoordige rooi notaboek

Om nie te praat van haar poker face nie. Sekondes voor sy die wenner moes aankondig, tol my kop ¨ja sy…of dalk ek…nee, nee die ander een…ag flip, ek weet nie!¨

Pork banger burger met roket, tamatie, pekeluie, guacamole en koolslaatjie

Varkworsie burger met rokket, tamatie, pekeluie, guacamole en ‘n koolslaaitjie

Ek het verskeie disse oorweeg voor ek op varkworsie burgers met guacamole, gepekelde uie en ‘n koolslaatjie besluit het. Die man in my lewe is ‘n baie maklike en dankbare mens om vir te kook. Maar toe ek disse vir die program uitprobeer, ontaard hy skielik in ‘n food critic van Michelin-ster proporsies. Die chorizo-en-kekerertjies was sloppy en lelik. My smoorsnoek-met-‘n-twist was sommer ¨glad nie lekker nie¨ (hy hou elk geval nie van snoek nie), maar toe hy my varkworsie burger proe,  rek sy oë en hy sê: “Nou DIT, dis ‘n wenresep!”

Op stel met die moeder van alle Wenresepte, Carmen Niehaus

Op stel met die moeder van alle wenresepte, Carmen Niehaus

Of Carmen Niehaus met hom saamstem…wel, dit is ‘n heel ander storie. Ek kan self nie onthou wat ek alles kwytgeraak het nie en sien al twee maande na die episode uit. Christina en Zirkie, nou gaan ek finally uitvind wat julle so gefluister het!

Om te sien hoe my varkworsie burger teen Christina se heilsame quiche en Zirkie se romerige broccoli hoendergebak vaar, kyk Jy het ‘n Wenresep! Donderdag 17 Augustus om 6.30nm op VIA (kanaal 147). Die Wenresep sal ook in Huisgenoot en You van 23 Augustus verskyn.

Ek hét toe ‘n Wenresep. Baie dankie aan Carmen Niehaus, Huisgenoot, Nooitgedacht en die fantastiese produksiespan vir die geleentheid en PRET! En veral aan Zirkie en Christina, dat hulle sulke goeie sports was en nie lelik van my gefluister het nie. 

Foto van die dag: Zirkie doen haar Hair & Makeup sommer self op stel. Note the size of the mirror...

Foto van die dag: Zirkie doen haar eie Hair & Make-up op stel. Let op die spiëelgrootte… die glamour van TV, darem!

 

Probeer dit en deel jou burger met my @kitchenvixenish op Twitter en Instagram, of op my Facebook blad.

VARKWORSIE BURGER

Vir die patties:

1 pakkie varkworsies (8 worsies) uit velle gedruk

1 bossie sprietuie, fyn gesny

1 teelepel gerookte paprika

1 eetlepel asyn of suurlemoensap

1 eetlepel heuning

1 eier

2 snye brood, fyn gekrummel

Klaksie olie vir die pan

2 eetlepels soet sojasous om op die amper-gaar burger te verf

Vir die guacamole:

1 groot of 2 klein avokados, verpulp

1 knoffelhuisie, fyn gerasper

sap van 1 klein of ‘n halwe groot suurlemoen

2 klein roma tamaties, fyn gekerf (of halwe gewone tamatie)

2 eetlepels suurroom of Bulgaarse joghurt

125ml (halwe koppie) vars koljander, fyn gekap

Sout en peper na smaak

Vir die koolslaai:

Kwart rooi (of groen) kool, superfyn gesny

1 teelepel warm Engelse mostertpoeier

1 eetlepel rooiwyn asyn

3 eetlepels olyfolie

1 groen appel, geskil en in fyn stafies gesny

Sout en peper na smaak

Ter samestelling:

4 van jou gunsteling hamburger rolletjies

Rokketblare

8 klein roma tamaties in skywe gesny (of groot tamatie)

Rooi ui in fyn ringe gesny en in oorskiet jalapeño-pekelwater geplaas

Vars koriander blare as garnering

METODE:

Patties

  • Druk die varkworsies uit hul velletjies en meng met ‘n vurk
  • Voeg die sprietuie, gerookte paprika, asyn en heuning by en meng goed
  • Verkrummel die twee snye brood en breek eier daaroor. Verseker daar’s geen groot klonte nie.
  • Voeg die eier- en broodmengsel by die varkworsies en meng goed.
  • Deel in vier, rol en druk plat om hamburger-vorm te kry
  • Plaas op ‘n bord, bedek met clingfilm en plaas in yskas tot benodig.

Guacamole

  • Voeg al die bestanddele by die verpulpte avokado en meng tot glad.
  • Bedek met ‘n deksel of doek sodat dit nie verkleur nie.

Koolslaai

  • Plaas mostert in ‘n mengbakkie.
  • Voeg asyn by en meng, dan olyfolie en meng goed.
  • Voeg die fyngesnyde kool by en meng goed.
  • Gooi die appelstokkies bo oor, sprinkel sout en peper en meng deur. Bedek met doek of deksel.

Voorbereiding

  • Verhit ‘n pan met olie tot medium, NIE hoog nie.
  • Braai die frikadelle vir 5 minute voor jy dit omkeer.
  • “Verf” die gebraaide kant dan met ‘n bietjie soet sojasous en draai weer om na 5 minute.
  • Dit is om te keer dat die suiker in die sojasous aanbrand voordat die burger gaar is. Vark moet nie rou geëet word nie, so ek maak die frikkadel omtrent 80% gaar voor ek die soja aanwend. Dit gee dit ´n pragtige gebraaide burger voorkoms en smaak heerlik.
  • Terwyl die burger braai, sny die broodrolle middeldeur en plaas vir sekondes onder die rooster om effens kleur te kry en bietjie bros te word.

Samestelling

  • Op die onderste broodrolletjie, plaas rokketblare
  • Bedek met ‘n laag gesnyde rosa tamaties
  • Dan ‘n goeie lagie van die gepekelde rooi uie (of vars rooi uie)
  • Plaas jou vark pattie bo-op
  • Skep ‘n kwart van die guacamole op die frikkadel en versier met vars koriander blare.
  • Bedien met koolslaai.

 

 

 

§ 10 Responses to Jy het ‘n Wenresep! Of, het ek?"

  • Zirkie says:

    So mooi gestel! Ek hou van jou skryfstyl! Mag die beste vrou wen!! 😉

  • Rene says:

    Oulik, oulik, kan nie wag om die uitsending te kyk nie!

  • carmen niehaus says:

    HI Bianca,
    Wow, maar jy het omtrent in detail waargeneem terwyl ons besig was… en jou oog het niks gemis nie.
    Dankie vir die wonderlike report oor die show — kan net ons kykertal ‘n hupstoot gee. So lekker geskryf en ja regverdigheid is maar mos waaroor alles gaan.
    Nou kan jy maar die aap uit die mou laat oor wie die wenner was!

  • Annette says:

    Hi Bianca,

    Waar kan ek soet sojasous koop? Ek was by Woollies, maar hul het nie ‘n idee waarvan ek praat nie.

    • Bianca says:

      Hi Annette

      Dis jammer. Ek het dit beslis al by groter Woolies gesien. Waar ek tans woon (Stellenbosch) het ons ‘n baie groot, uitstekende SPAR in Die Boord wat ‘n goeie Oosterse afdeling het. Ek het dit laas daar gekry. Ons het ook ‘n Checkers super store wat baie uitheemse produkte dra. ´n Groot, goeie PnP behoort dit ook te hê. Indien jy dit glad nie vind nie, kan jy ook gewone soja en heuning meng (oppas net vir aanbrand in ‘n te warm pan) of ‘n soet balsamiese reduksie gebruik. Laat weet hoe jou burgers geproe het, asb!

      Groete
      Bianca

  • Geniet Die Program baie. Carmen Niehaus mag maar. Bianca die Varkburger resep is heerlik. Het dit op FB gedeel met my vriendinne en die resep vir baie ge-epos. Via is tans my gunsteling program. Geniet ook Inspirasiekos met Sarie…

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *