Danksy Herman Lensing weet ek ook nou. Ten spyte van die erge droogte, hang die laaste trosse van die oes swaarder as ooit tevore. Wyndruiwe is klein met dik doppe en ouskool pitte, maar word soeter gepluk as tafeldruiwe. So toe ek vandag verby die laaste kratte van hierdie oesjaar stap, gryp ek ‘n paar trosse Cabernet Sauvignon* om Herman se plat druifbrood van ‘n onlangse Inspirasiekos met Sarie-program na te maak.
Makliker kan dit nie. ‘n Sakkie klaargemaakte deeg by jou plaaslike supermark se bakkery en die res is at your own discretion. Herman se weergawe het bloukaas, heuning, sout, peper en uitvoergehalte pitlose druiwe bevat. Ek het sy raad gevolg en ‘n bakplaat vrot van die olyfolie gegooi, die deeg dun uitgerek en toe met vingerpunte vol dimpels gedruk. My topping het bestaan uit:
Saggebraaide rooi uieringe, sagte bloukaas, ‘n handvol lekker soet Cabernet Sauvignon druiwe (suikervlak van 25 balling vs. 17 van die tafeldruiwe), ‘n paar druppels esdoringstroop, sout, peper en ‘n strooisel superfyn gekerfde jalapeño rissie. En natuurlik ‘n paar klakse olyfolie bo-oor. Halfuur in die oond teen omtrent 230 grade. Inspirasie voorwaar.
Dit help om so nou en dan TV te kyk. As ek nie hierdie episode van Inspirasiekos met Sarie raakgekyk het nie, sou ek nog minstens twee jaar moes wag om hierdie heerlike druiwe in bottelvorm te geniet.
WOW mooi vrou. stunning brood. bring seblief van daai druiwe.
Dit was die laaste ou tros van die oes. Maar ek maak met liefde vir julle so brood as julle kom kuier, van gekoopte druiwe. xxx