Koekedoor Twee is kolwyntjies in high polfies

April 12th, 2016 § 0 comments

Die tyd om te bak is sommer nóú nóú! Koekedoor is terug en hierdie keer draai hulle nie vatdoekies om nie. Koekedoor Een was vir my ‘n meditasie in pastelskakerings met sagte skadus wat deur meelwolkies filter, ‘n spel van soet en sout wat hom nooit verstout het nie. Tot die saggeaarde en perfeksionistiese Martjie Malan die f-bom sommer drie keer in ‘n ry gedrop het. Maar bak kán dit mos aan ‘n mens doen.

Ek was onlangs bevoorreg om die eerste 90-minute episode van Koekedoor Twee saam met beoordelaars tannie Elizabeth, Tiaan Langenegger en Mari-Louis Guy te kyk terwyl ons aan soet- en southappies uit die einste episode gesmul het.

Drie dae lank was die Cakebread Studio 'n fees van kleure en geure

So reg uit Riaan Cruywagen se kinderdae uit…

 

En glo my, hierdie is ‘n Koekedoor van ‘n ander kleur. Die Barbie-pienk en Sound of Music saligheid van die eerste reeks het ‘n gravitas bygekry wat jou laat regop sit. Koekedoor Twee se intro is so belaai met hartsnaarbeelde en dramatiese musiek, ek het skoon tranerig geraak. Goeie hel, dog ek, dis soos een van daai epiese, opswepende bankadvertensies. Of het ek straks PMS, moes ek myself vra. Any which way, dames, moenie julle pêrels stukkend druk nie!

Groot Koekedoor Mari-Louis Guy. Die lady mág maar.

Groot Koekedoor Mari-Louis Guy. Die lady mág maar.

Die kamerawerk en redigering is fokken fantasties meesterlik, met ‘n film noir spanning wat aan die ikoniese Franse fliek Delicatessen herinner. Baie dinge het in die Koekedoorstoor gespat, maar gelukkig nie bloed nie. Die span van Homebrew Films het hulself oortref. Reeksregisseur Sanet Olivier en regisseur van fotografie Chris Lotz is uitstekende storievertellers. Dis ‘n spel van lig en donker, ‘n lighartige gegiggel gevolg deur bloed sweet voor die oonde. As jy wil sien hoe ‘n tannie haarself in ‘n middelpaadjie inbak, wag en kyk maar…

Dit is wonderlik dat Koekedoor dieselfde beoordelaars behou het. Tannie Elizabeth, Mari-Louis en Tiaan het mekaar in Koekedoor Een leer ken en nou speel hulle eers lekker saam. Die bekendstelling van Koekedoor Twee het tydens ses teepartytjies oor drie agtereenvolgende dae geskied. Toe ek verlede Donderdagmiddag by die allerlaaste van die ses opdaag, was die drie aanbieders met goeie rede flou, maar ‘n lekker tequila koppie tee later was almal weer bok vir sports. Ongelukkig kon Inhoudsvervaardiger Errieda du Toit nie die bekendstelling bywoon nie. Haar koskennis en passie is die bakpoeier wat hierdie Koekedoor-beslag so hoog laat rys.

Dream Team: Mari-Louis Guy, Tiaan Langenegger en tannie Elizabeth Cloete

Three Amigos: Mari-Louis Guy, Tiaan Langenegger en tannie Elizabeth Cloete

Op die oog af lyk hierdie reeks se deelnemers na tawwer kompetisie as die vorige een. “En daar is KARAKTERS,” meen Mari-Louis, “as mens eers almal se stories leer ken raak dit baie interessant.” Daar is net een haan onder die henne en ek vermoed Wessels gaan ‘n gunsteling wees. Die pryse is, soos voorheen, groot en in die meeste gevalle kry mens die gevoel dat dit ‘n wesenlike verskil aan die bakker se lewe sal maak. En dit is tog lekker.

Screen Shot 2016-04-11 at 13.36.28

Gaan Wessels die dames bat?

Benewens die spanning van die kompetisie – strope wat nie wil stol nie, loperige versiersuiker op ‘n warm sponskoek, groot gate wat kleiner moes wees – is daar die passie en liefde vir skep met meel en botter en suiker wat ‘n mens tog so boei. Ek raak sommer self lus vir bak – nee fff.. NEE – wat praat ek.

En wie weet, dalk wen Kanja nie. Net omdat sy SA se sjokolademeester is, beteken nie sy kan koeksisters en marmite koek en perfekte brood bak nie, of hoe? Met die eerste episode van Koekedoor Een was ek oortuig Martjie Malan gaan wen en toe was dit die snaakse, plat-oppie-aarde Mareli Visser wat bakpoeier in Martjie se oë geskop het. Ek sê maar net…

Kyk dit. PVR dit. Moet dit nie misloop nie. Hierdie gaan groot pret en hope inspirasie wees.

Koekedoor word Donderdagaande vanaf 14 April 2016 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die 90 minute loods-uitsending begin om 20:00; die daaropvolgende episodes om 20:30.

 

Die tien deelnemers aan Koekedoor Twee. Mag die beste koek wen!

 

Dankie aan Cakebread Studio en Errieda du Toit PR vir die puik launch. Julle rock.

 

Agter elke groot koekedoor is 'n man. Wat nie sy lag kan hou nie! Callie Maritz en Ian du Toit

Callie Maritz en Ian du Toit – want agter elke Groot Koekedoor is ‘n man. Wat nie sy lag kan hou nie!

 

Sophia en Winny –  sommer net vir die mooi. Want dis nie ‘n partytjie sonder ‘n feetjie en ‘n koningin nie.

 

 

Tagged , , , , , , ,

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *